Visie 1 Biljoen

Visie 1 Biljoen stel ten doel om binne die volgende vyf jaar 1 biljoen of meer mense in die mins-geëvangeliseerde wêreld met die Evangelie van Jesus Christus te bereik deur Operasie Een Ding in medewerking met ons vennote.

Is hierdie visie realisties?

Die antwoord is, ja! Met behulp van die moderne tegnologie, digitale media en die internet, is dit nie slegs moontlik nie - maar waarskynlik! Toegang tot die internet en selfone maak dit vandag baie maklik om mense in enige plek van die wêreld te bereik. Die digitale en sosiale media is vandag die grootste instrument van kommunikasie, reklame en propaganda in die wêreld. Selfs koerante en tydskrifte word deesdae digitaal versprei.  

Sosiale media programme spring soos paddastoele op, terwyl Facebook alleen, meer as 2 biljoen intekenare het! Met WhatsApp en ander toepassings, kan die meerderheid van die wêreldbevolking bereik word. Die YouVersion digitale Bybel is reeds in meer as 1,200 tale van die wêreld op 'n selfoon beskikbaar. Internettoegang is besig om na elke uithoek van die aarde te versprei terwyl organisasies soos Facebook internettoegang as 'n basiese mensereg beskou en hulleself ten doel stel om internettoegang tot elke mens op aarde se beskikking te stel. Die internet en digitale media het 'n wêreldvisie!

Dus, die antwoord op die vraag of hierdie visie realisties is, is 'n besliste ja! Dit is nie alleen realisties nie, maar waarskynlik. Dit wag net vir die Kerk om die visie te gryp en uit te voer! Projek KuberWêreld is reeds besig met 'n internetbediening wat fokus op die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld. Projek KuberWêreld bereik mense met die Evangelie deur die internet waar sendelinge nie kan kom nie en die Bybel nie op normale maniere beskikbaar is nie!

Projek KuberWêreld het reeds miljoene mense in die mins-geëvangeliseerde wêreld bereik met ‘n piepklein begroting. Hulle bereik tans 18 persone 'n die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld vir elke Rand in hulle begroting. 'n Verhoging in Projek KuberWêreld se begroting sal 'n sneeubal-effek tot gevolg hê wat daartoe sal lei dat miljoene meer mense in die mins-geëvangeliseerde wêreld deur hierdie bediening bereik sal word. Daar is geen twyfel by ons dat Visie 1 Biljoen bereik kan word nie - met die ondersteuning van Christene en die Kerk van Jesus Christus! Ons sê weer - die doelwit is verseker bereikbaar!  

Wat kan verhoed dat ons die doel bereik?

Daar is slegs EEN DING wat kan verhoed dat ons die doel bereik - die apatiese houding, gebrekkige visie en onbetrokkenheid van baie Christene en 'n groot deel van die Kerk met betrekking tot die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag! As elke Christen en gemeente betrokke raak by die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld - SAL ons die doel bereik!

Hoe beoog ons om die doel te bereik?
Visie 1 Miljoen staan op drie pilare. As enige een van hierdie drie pilare ontbreek, sal Visie 1 Biljoen onuitvoerbaar wees. Hierdie drie pilare verteenwoordig die betrokkenheid van Christene en die Kerk. Sonder die doelgerigte ondersteuning van Christene en die Kerk sal die Groot Opdrag van Jesus Christus nooit voltooi word nie!
Pilaar 1 - Gebedsondersteuning
Soos ons almal weet, is gebedsondersteuning die belangrikste pilaar van alles wat die Kerk en elke Christen doen. Gebed aktiveer die werking en krag van die Heilige Gees waarsonder ons geen geestelike resultate sal verkry nie. Sonder gebedsondersteuning sal die Kerk nooit die Groot Opdrag voltooi nie en sal Operasie Een Ding ook nie in sy doel slaag nie. Daarom is ons heel eerste versoek aan jou om vir ons te bid - en spesifiek vir Visie 1 Miljoen te bid.
Pilaar 2 - Mobiliseringsondersteuning
Mobilisering beteken om Jesus se visie vir die voltooiïng van Sy Groot opdrag en die bereiking van die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld aan soveel as moontlik Christene oor te dra en te oorreed om saam met Operasie Een Ding op die trein te klim. Ons noem hulle wat saam met ons op die Operasie Een Ding trein klim - Een Dingers. 'n Een Dinger is iemand wat hierdie een ding - die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag sy hoogste prioriteit gemaak het en ander Christene help om dieselfde te doen. In 'n neutedop beteken dit eintlik maar net om Jesus se Groot Opdrag uit te voer en ander Christene te mobiliseer om die Evangelie te help neem na elke volk, stam en taal.

Om Visie 1 Biljoen binne vyf jaar te bereik, moet Operasie Een Ding binne die volgende jaar 800 nuwe Een Dingers mobiliseer om betrokke te raak. As ons dit alleen moet doen, sal ons waarskynlik misluk. Maar as jy saam met ons op die trein klim, is dit moontlik!

Jy wat hier lees, is die onmisbare skakel! Die hand wat jy in die prentjie sien, is jou hand. Die legkaartstukkie in die prentjie is 'n kantstukkie. Daar is drie ander stukkies wat SLEGS by jou stukkie inpas! Daardie drie stukkies kan nie in plek kom totdat jou stukkie in plek is nie! Wat ons hier aan jou illustreer is die geheim van vermenigvuldiging. Die prentjie wat ons vir jou wil skilder is dat daar drie ander persone is wat deur die Here geroep is om by jou stukkie in te pas, wat slegs deur jou bereik kan word! Ons sal jou natuurlik daarmee help en dit vir jou baie maklik maak.

Die Here roep jou vandag om doelgerig betrokke te raak by 'n aksie wat die Evangelie na die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld neem - waar Christelike kerke, sendelinge en Bybels dun gesaai is of gladnie bestaan nie, Die Here roep jou om doelgerig deel te word van die voltooiïngsfase van Jesus se Groot Opdrag. Meld vandag aan vir Visie 1 Miljoen! Is jy gereed om op die Operasie Een Ding trein te klim? Lees gerus verder, ons vertel jou meer.

Pilaar 3 - Finansiële Ondersteuning

Operasie Een Ding het 'n plan wat dit vir elke Christen moontlik maak om deel te word van Visie 1 Biljoen - ons noem dit Visie 1 Persent. Met ander woorde, as jy geen inkomste het nie, hoef jy niks by te dra nie. As jy R3,000 verdien, hoef jy net R30 per maand by te dra. As jy R10,000 verdien, hoef jy net R100 per maand by te dra. 1% is waarskynlik minder as wat jy maandeliks vir parkeer-, bedel- en bedieningsfooitjies betaal. Maak gerus 'n sommetjie. Jy hoef dus nie te wonder of jy dit kan bekostig nie. Die enigste vraag wat jy vir jouself moet beantwoord is, waar lê die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag op my prioriteitslys?!

Om meer te lees oor Visie 1 Persent volg die skakel hieronder
Ses redes waarom Een Dingers 1% gee

Klim vandag op die Visie 1 Biljoen trein en word 'n vriend van Operasie Een Ding
Voltooi en stuur die vorm hieronder om op die Visie 1 Biljoen trein te klim

Voltooi en stuur die vorm hieronder om te registreer as 'n vriend van Operasie Een Ding en om inligting op 'n gereelde basis van ons te ontvang wat jy weer met ander kan deel. Let wel, jy is onder geen verpligting om finansieel betrokke te wees om jou naam op die vriendelys te plaas nie!

Ons hou streng by 'n 'GEEN-SPAM' beleid. Jou privaatheid is ons hoogste priortiteit en ons onderneem om jou inligting met niemand anders te deel nie. Lees ons Privaatheid Beleid hieronder. Jy mag enige tyd onttrek en jou naam van die Operasie Een Ding vriendelys verwyder deur die skakel onderaan enige epos te volg.